|
Die Kerk onderskryf en onderhou die volgende
geloofsbeginsels:
Ons glo die Bybel as die geïnspireerde Woord van
God, ewig en onfeilbaar en dat dit gesaghebbend die wil van God
vir die mens verkondig en alles leer wat vir saligheid nodig
is.
(Ps. 119:160 Rom. 15:4; II Tim. 3:16).
Ons glo in die Enige
Waaragtige God van die Bybel - Vader, Seun en Heilige Gees.
(Deut. 6:4; Job 23:13; Jes. 44:6; Sag.
14:9;Mark 12:29;Joh. 17:3; Kol. 2:9;Jak. 2:19; Openb. 4:2 & 8).
Ons glo in die maagdelike
geboorte en Godheid van Jesus Christus die Here, Sy kruisdood,
opstanding op die derde dag, hemelvaart en wederkoms.
(Lev. 23:1-44; Jes. 7:14; Jes. 9:5; Matt. 1:23; Matt.
12:38-40; Matt. 27:32-56; Matt. 28:1-10; Mark. 16:1-7; Luk.
22:1-20; Luk. 23:56; Joh. 19:31;
Hand. 1:9-11; I Kor. 15:1-3; Gal. 4:4; Tit. 2:13)
(a) Ons glo in God die Vader, ewig, onsigbaar en
alomteenwoordig.
(Deut. 4:12;Joh. 1:18,Joh. 4:24;Joh. 5:37; I
Tim. 6:16).
(b) Ons glo in die eniggebore Seun van God, Jesus Christus, die
Woord wat vlees geword het.
(Jes. 7:14; Matt. 1:23; Joh. 1:14; Joh. 3:16;
Gal. 4:4; I Tim. 3:16; Heb. 2:14; I Joh. 5:20; Openb. 1:18).
(c) Ons glo in die Heilige Gees wat die Gees van die Vader en
Christus is, wat die wêreld oortuig van sonde, geregtigheid en
oordeel en die mens in die hele waarheid lei.
(Joh. 14:16 & 17 & 26; Joh. 15:26; Joh.16:7,8,13; Rom 8:9, I
Kor. 2:11; II Kor. 3:17).
Ons glo dat alle mense
hulle moet bekeer en weergebore moet word uit water en Gees en
dat almal wat glo in die verlossingswerk van Jesus Christus,
gedoop moet word tot vergifnis van hulle sonde deur enkelvoudige
onder- dompeling in die Naam van die Here Jesus.
(Matt. 28:19; Joh. 3:5; Hand. 2:38; Hand.
19:1-6; Rom. 6:1-4; I Kor. 6:10-11; Gal. 3:27; Tit. 3:5; I
Pet. 3:20 &21).
Ons glo in die uitstorting
van, en doping met die Heilige Gees, waarvan die uiterlike teken
die spreek in ander en nuwe tale is. Ons glo aan die genadegawes
van die Heilige Gees, soos weergegee in die Woord van God,
waarvolgens die kerk toegerus moet word vir dienswerk.
(Joël 2:28 & 29; Matt. 3:11; Mark. 16:17; Hand.
2:1-4 & 38; Hand. 19:1-6; Rom. 12:3-8; I Kor. 14:2 I Kor.
12:1-31; Efes. 4:7-16; I Pet. 4:10).
Ons glo dat die Kerk geroep
is tot gehoorsaamheid aan die uitvoering van die Groot Gebod en
die Groot Opdrag.
(Matt. 22:36-40; Matt. 7:12; Matt. 28:19; Mark.
16:15; I Kor. 10:24).
Ons glo aan die opstanding
van die dode tot die ewige lewe of die ewige verderf en in 'n
oordeelsdag waar Jesus Christus die lewende en die dode sal
oordeel en dat daar 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gaan wees
waar God in heerlikheid en geregtigheid sal regeer.
(Sag. 14:9; Matt. 24:40-41; Joh 5:28-29; 1 Kor.
15:42; 1 Thes. 4:13-17; 2 Pet 3:13; Openb. 20:11-15; Open.
21&22).
Ons glo aan die gereëlde
bediening van, en deelname aan die Nagmaal wat 'n instelling is
van Jesus Christus en deur die Kerk onderhou moet word.
(Matt. 26:26-29; I Kor. 10:14-22; I Kor.
11:23-33).
Ons glo aan heiligmaking
deurdat elke Christen 'n dissipel van Jesus Christus moet wees
en 'n toegewyde en heilige lewe moet lei volgens die vrug van
die Gees.
(Ef. 5:22; Matt. 5:48; 1 Kor. 6:19 & 20; Heb.
12:13-16; 1 Pet:14 -16). |